Digital downloads. Secure payments.

Hoe weet ek my kind is gereed vir skool?

Hoe weet ek my kind is gereed vir skool?

Wat is skoolgereedheid? 

Skoolgereedheid is ‘n proses wat stelselmatig plaasvind. Dit gaan hand-aan-hand met normale ontwikkeling, sodat kinders teen die tyd dat hul skoolpligtig is, ook gereed is om aan die eise van formele onderrig te voldoen. Wanneer leerders Graad 1 betree, word daar verwag dat hul reeds sekere ontwikkelingsvaardighede bemeester het. Dit is ook belangrik dat hulle oor voorafkennis beskik wat formele onderrig en leer moontlik maak. Alle kinders ontwikkel egter nie teen dieselfde tempo nie en soms benodig hulle meer stimulasie om sommige vaardighede te bemeester. ‘n Kind wat byvoorbeeld nog sukkel om sy/haar potlood reg vas te hou en met die nodige potloodbeheer te skryf, sal ‘n formele skryftaak baie meer uitdagend vind as ‘n kind wat reeds hierdie vaardigheid bemeester het. Graad 1- leerders kom ook van verskillende skole af met die gevolg dat kinders se blootstelling aan vaardighede verskil.

Hier volg ‘n paar algemene riglyne en idees om vaardighede wat belangrik is vir skoolgereedheid te bevorder: 

Grofmotoriese ontwikkeling 

Hier word verwys na vaardighede soos balans, koördinasie, balvaardighede, asook die vermoë om ‘n regop postuur by die werktafel te handhaaf. Fisiese uithouvermoë is ‘n aspek wat geweldig belangrik is as ‘n mens in ag neem dat leerders vir lang tye by hul werktafel moet sit en konsentreer. Deelname aan fisiese aktiwiteite en buitemuurse sport/oefening moet dus sterk aangemoedig word en die tyd voor televisie en rekenaarskerms moet beperk word. 

Fynmotoriese ontwikkeling.

 • Potloodgreep

Potloodgreep en potloodbeheer is ‘n baie belangrike bousteen vir skoolgereedheid. Jong leerders openbaar nog onvolwasse potloodgrepe en vind dit baie moeilik om met goeie beheer te teken en te skryf. Enige aktiwiteite waartydens hande gebruik word om te skeur, frommel, plak, knip en met klei te speel, is waardevol. Tuis kan takies soos groente skil, wasgoed ophang en ander huishoudelike aktiwiteite, ‘n bydrae lewer om klein handspiere te ontwikkel en uithouvermoë van die handspiere te verbeter.

 

• Knipvaardigheid 

Knipvaardigheid speel ‘n belangrike rol in potloodgreepontwikkeling en die ontwikkeling van fynmotoriese vaardighede. Korrekte skêrgreep moet reeds voor die aanvang van Graad 1 bemeester wees. Leerders moet aangemoedig word om die skêr met die duim in die klein opening en die wys-en middelvinger in die groot opening vas te hou. Leerders moet aangemoedig word om die regte kant om te knip. ‘n Regshandige persoon knip anti-kloksgewys om ‘n voorwerp, terwyl ‘n linkshandige persoon kloksgewys rondom ‘n voorwerp knip. Verseker ook asb. dat leerders wat links is, ‘n linkshandige skêr gebruik. 

Ouditiewe persepsie: 

Hierdie area is veral belangrik vir die ontwikkeling van lees en spelling en kan gerus tuis geoefen word. Leerders moet bv. kan hoor uit watter klanke ‘n woord bestaan. Hul moet reeds met die aanvang van Graad 1 die beginklanke van ‘n woord hoor (in bv. k-a-t). Onthou ook om te oefen om eindklanke en middelklank te identifiseer en dit is ‘n area waaraan daar tuis aandag gegee kan word. Idees om tuis te oefen: Identifiseer begin-, middel- en eindklanke van eenvoudige 3- letterwoorde bv. k-a-t Identifiseer die woord wat nie met ‘n klank bv. ‘s’ begin nie in ‘n ry van vier woorde (bv. slang, swaai, vis, sing).

Identifiseer rymwoorde. Hulle moet kan hoor watter woord rym nie/eindig nie dieselfde nie. Byvoorbeeld man, pan, tak, kan. U kan ‘n waardevolle bydrae lewer om hierdie vaardigheid op ‘n informele wyse tuis te stimuleer deur byvoorbeeld liedjies, rympies en raaisels. ‘n Goeie woordeskat is belangrik om leer te verseker. Lees baie met u kind en gesels oor verskillende onderwerpe. Prikkel belangstelling en moedig goeie taalgebruik aan. Vermy gebruik van Engelse woorde in algemene taalgebruik.

Kognitiewe en Visueel Pesepsuele Ontwikkeling: 

Wiskunde vorm ‘n uiters belangrike hoeksteen van u kind se opvoeding. Teen die tyd wanneer kinders skoolpligtig is, moet hul reeds ‘n goeie getalbegrip tot en met getalgebied 10 hê. Hul moet reeds gemaklik kan tel, syfers 1 tot 10 kan herken en skryf en begrippe soos ‘meer’ en ‘minder’ verstaan. Ook sal daar van hulle verwag word om eenvoudige optel- en aftreksomme met konkrete voorwerpe te kan bemeester, bv. daar is 3 appels, kom ons vat een weg. Tel hoeveel appels bly oor. Op hierdie ouderdom is dit baie voordelig en belangrik om wiskundige begrippe op konkrete wyse vas te lê en op ‘n konkrete wyse te oefen.

Dis dikwels opmerklik dat leerders nog sukkel met lateraliteitsbegrippe soos ‘links’ en ‘regs’, asook kwantiteitbegrippe soos ‘voor, na, meer as, minder as, eerste, tweede’ en dies meer, wanneer hul in graad 1 kom. Dit is belangrik dat die leerders hierdie begrippe goed moet verstaan en ken sodat hul nie onseker in die klaskamer voel wanneer die opvoeder ‘n instruksie gee nie. Die maklikste wyse om hierdie begrippe te verstaan is om dit konkreet te ervaar, bv. Wie het die meeste appels?, Wie staan eerste in die ry?, Wie staan laaste in die ry?

Sosiaal-emosionele ontwikkeling:

Vir meeste ouers en kinders is die aanpassing in Graad 1 ‘n nuwe uitdaging. ‘n Gelukkige en suksesvolle graad 1-leerder is ‘n kind wat ouderdomstoepaslik en onafhanklik kan funksioneer met goeie sosiale en emosionele vaardighede. U as ouer kan opvoeders in hierdie strewe ondersteun deur u kind aan te moedig om onafhanklik op te tree.

Wat kan ons doen?

Persoonlike inligting – Voor die aanvang van Graad 1 moet die leerder sy naam kan skryf, asook sy adres en telefoonnommer ken. Hy moet ‘n ouderdomstoepaslike menstekening kan maak en al die belangrike liggaamsdele en hul funksies ken en kan weergee. 

Luistervaardighede - leerders moet aangemoedig word om stil te bly wanneer ‘n volwasse persoon praat, goeie oogkontak maak en indien moontlik die opdrag herhaal sodat u as ouer weet of u kind die opdrag korrek verstaan het. Begin met eenvoudige 2-stap opdragte en maak dit geleidelik moeiliker. Wees ook ‘n goeie voorbeeld van luistergedrag en luister na u kind wanneer daar van die dag se aktiwiteite vertel word.

Taakvoltooiing en verantwoordelikheid - Dit is geweldig belangrik dat leerders by die huis take en verantwoordelikhede kry om hierdie vaardigheid te oefen. Eenvoudige huistake help om leerders se verantwoordelikheidsin te ontwikkel. Dit is ook belangrik om leerders aan te moedig om take te voltooi, al is dit moeilik of onaangenaam. Tuiswerk moet op dieselfde wyse aangepak word.

 

Onafhanklikheid - Soms is dit vir ons as ouers moeilik om te besef dat ons kinders besig is om groot te word en dat ons hul moet aanmoedig om onafhanklik te word. Vaardighede soos om self my tas te dra en klas toe te loop is van die eerste stappe om ‘n kind se onafhanklikheid in ‘n veilige omgewing aan te moedig. Verantwoordelikhede en take by die huis soos om my bed op te maak en my kamer aan die kant te maak is enkele voorbeelde van take wat leerders gerus tuis kan verrig om onafhanklikheid en verantwoordelikheidsin te kweek. 

Samewerking in ‘n groep - Dit is soms vir kinders baie moeilik om in ‘n groep saam te werk, hul beurt af te wag en te besef dat hul nie altyd eerste kan wees of kan wen nie. U as ouers kan ‘n groot bydrae lewer om hierdie vaardighede tuis te oefen. Bordspeletjies soos Ludo, Slangetjiesen-leertjies, UNO en Monopoly is byvoorbeeld ‘n heerlike manier vir u as gesin om tyd saam te spandeer, terwyl die kinders die geleentheid kry om vaardighede soos beurtname en gesonde kompetisie te oefen. Hierdie vaardighede sal goed te pas kom in die klaskamer en u kind help om sosiaal en emosioneel in te skakel by ‘n groep. 

 

Graad 1 is gewoonlik vir die meeste kinders en ouers ‘n tydperk van groot opgewondenheid, maar ook soms vol vrees en bekommernis, omdat ons graag wil hê dat ons kinders suksesvol en gelukkig moet wees. Ons as ouers lewer ‘n belangrike bydrae in ons kinders se skolastiese vordering. Met die WriteAbility skoolgereedheidspakket as hulpmiddel vir voornemende graad 1-leerders, hoop ons om u in hierdie belangrike taak te ondersteun.

Besoek gerus www.writeability.co.za vir meer inligting rakende die “Gereed vir skoolSkoolgereedheids-werkboek en aktiwiteite pakket


 

OUR PRODUCTS

GRAAD R PAKKET

READ MORE

PRESCHOOL BUNDLE

BUY NOW

PRE WRITING  SKILLS, 

READ MORE

Leave a comment

Please note, comments must be approved before they are published

What are you looking for?

Your cart